OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se oudste en bekendste inwoners, Adam Frederick Wicomb, alom bekend as Meester Ampie, van Sesdelaan, Colridge View, en ook die oudste Wicomb, het op 20 Desember sy 102de verjaardag by die Swartberg Country Manor op Matjiesrivier, die plaas waar hy gebore en grootgeword het, saam met familie en vriende gevier het.
Die merkwaardige oud-skoolhoof wat steeds helder van verstand is en nog gereeld sy wyshede neerpen geniet nog redelik goeie gesondheid en skryf: “Op ‘n honderd-en-twee jaar bly ek nog God se kind met ‘n hart soos ‘n oseaan van liefde”.
Meester Ampie, was tien jaar oud toe sy pa oorlede is en sy ma vir hom, sy twee broers en twee susters, onder moeilike omstandighede alleen moes grootmaak.
“Ek moes na standerd ses uit die skool en vir twee jaar op die plaas werk om die huis se inkomste aan te vul, en dikwels sommer op die wa van die plaaseienaar geslaap.”
Hy was in 1940 een van die eerste leerlinge van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn en die volgende jaar die eerste een wat die junior sertifikaat met ‘n eersteklas geslaag het..
In 1941 het die hoof van Môrester vir hom ‘n werkie by die Methodiste Kerk gekry om sakgeld te verdien.
“My taak was om Sondae die orrel met die hand te pomp anders is daar geen klank. Daarvoor het ek12 sjielings en ‘n sikspens per maand verdien.”
Hy het hom in 1943 as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwys Instituut in die Paarl bekwaam en die volgende jaar op Ladismith begin skoolhou.
Hy het in 1981 na 24 jaar as hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool die tuig na 38 jaar in die onderwys, neergelê.
Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien. Eers op Dysselsdorp, daarna Oudtshoorn en vanaf 1985 diaken van die Weyers Memorial United Congregational Kerk totdat hy in 1992 tot lewenslange erediaken vereer is.
Hy was een van die stigterlede van dié kerk.
“Pa, Pa is ons rots en trots. Vir die wêreld daar buite is pa net ‘n pa maar vir ons is pa ons hele wêreld. Ons is bevoorreg om die geskenk van 102 jaar wat pa van Bo ontvang het saam te kan vier. Wees verseker van ons Liefde,” het Diana, een van sy dogters Dinsdag, tydens die geselligheid op Matjiesrivier gesê..
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'