OUDTSHOORN NUUS - Die oudste van die Wicomb-familie, Adam Frederick Wicomb van Sesdelaan, Colridge View, alombekend as Meester Ampie, vier vandag, 20 Desember, sy 103de verjaarsdag.
Die merkwaardige oudskoolhoof pen nog daagliks sy wyshede neer. Sy eggenote, Maggy, het hom reeds baie jare gelede ontval.
"Ons kyk te veel na die slegte dinge van die wêreld terwyl daar so baie skatte tussen ons is om te waardeer. Ons moenie mense vereer na hul dood nie, maar terwyl hulle nog saam met ons is," het Wicomb gesê.
Meester Ampie, wat op Matjiesrivier gebore is, was tien jaar oud toe sy pa oorlede is en sy ma vir hom, sy twee broers en twee susters, onder moeilike omstandighede alleen moes grootmaak.
"Ek moes na standerd ses uit die skool en vir twee jaar op die plaas werk om die huis se inkomste aan te vul, en het dikwels sommer op die wa van die plaaseienaar geslaap."
Hy was in 1940 een van die eerste leerlinge van Hoërskool Môrester in Oudtshoorn en die volgende jaar die eerste een wat die junior sertifikaat met 'n eersteklas geslaag het.
In dieselfde jaar het die hoof van Môrester vir hom 'n werkie by die Metodiste Kerk gekry om sakgeld te verdien.
"My taak was om Sondae die orrel met die hand te pomp anders is daar geen klank. Daarvoor het ek 12 sjielings en 'n sikspens per maand verdien."
Hy het hom in 1943 as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwys Instituut in die Paarl bekwaam en die volgende jaar in Ladismith begin skool hou waar hy sy vrou, Maggy, ontmoet het.
Hy het in 1981 na 24 jaar as hoof van die Vlakteplaas UCC Primêr die tuig na 38 jaar in die onderwys, neergelê.
Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Church gedien. Eers in Dysselsdorp, daarna Oudtshoorn en vanaf 1985 diaken van die Weyers Memorial United Congregational Church totdat hy in 1992 tot lewenslange erediaken vereer is.
Hy was een van die stigterlede van dié kerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’