OUDTSHOORN NUUS - "Gaan die volgende Daleen Matthee, Adam Small of JM Coetzee ná vandag uit die Suid-Kaapse skrywersgemeenskap na vore kom?"
Met hierdie uitdaging het dr. Jopie Coetzee (medestigter van die Suid-Kaap Skrywersgilde) die ATKV-skryfskool se kreatiwiteitswerksessie op Saterdag 5 Mei by die Santos Treinrestaurant se konferensiesentrum geopen.
Daarna het prof. Franci Greyling die krane oopgedraai en die kursusgangers aan die werk gesit om die wetenskap en die kuns van kreatiewe denke te verstaan, te oefen en te bemeester.
Na sewe ure, wat soos 'n oogwink verbygevlieg het, het al die fronse in breë glimlagte verander, want elkeen is bemagtig en geïnspireer om daardie onvoltooide boek of gedig in 'n meesterstuk te omskep en te publiseer.
Die 32 skrywers van Mosselbaai, Stilbaai, George, Oudtshoorn en Calitzdorp verstaan nou die kreatiwiteitsmodelle van Amabile, De Bono en Csikszentmihalyi.
Die toepassing van soepel denke en praktiese tegnieke is nou bemeester om hul prosa of poësie te omskep sodat hul lesers met verwondering, kort van asem en met sterre in hul oë gelaat word.
Prof. Franci Greyling, dosent in skryfkuns aan die Noordwes Universiteit, is bekend dat sy haar en ander digters se werk kreatief bekendstel in openbare plekke soos die Potchefstroom botaniese tuin, en binnekort ook in die Karoo Nasionale Park en die multisensoriese tuin vir siggestremdes in Worcester.
'n Groot aantal jong mense, insluitende vyf bloedjong merietebeurshouers, het hierdie werksessie ekstra woema en sprankel gegee. Die beurshouers is: Annerie Troskie, Bianca de Swardt en Marli Schoeman van Mosselbaai, Anna-Mart Schutte van Oudtshoorn en Lee Symons van Stilbaai – almal tussen 17 en 19 jaar oud.
Hierdie beurse is deur die ATKV (twee), 'n anonieme Mosselbaaier (twee) en die Mosselbaai-skryfklub (een) gefinansier nadat hul skryfstukke deur 'n onafhanklike paneel skrywers geëvalueer is.
Franci Greyling het beklemtoon dat skrywers moet waak teen vereensaming gedurende die skryfproses. Sy moedig almal aan om aktief deel van 'n plaaslike skryfklub te word ten einde baat te vind in die vloei van kreatiwiteit, rigtinggewende kritiek en die hartlike samesyn van woordgenote.
Christo Jordaan, medestigter van die Suid-Kaap Skrywersgilde het ter afsluiting gesê dat dit merkwaardig is hoe belangstelling in die skryfkuns die afgelope jare in die Suid-Kaap gegroei het.
Skryfkringe reik oor dorpsgrense heen na mekaar uit om groot geleenthede soos hierdie kreatiwiteitswerksessie te laat plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'