OUDTSHOORN NUUS - Die 27 seuns van Huis Triomf op Oudtshoorn het Maandag 'n vroeë Kersfeesete geniet danksy die personeel van Meals on Wheels Oudtshoorn.
Die voorsitter van die organisasie, Henrico Kumutu, sê nadat hulle gehoor het dat die tehuis swaartrek het hulle besluit om die seuns met 'n Kersete te trakteer en in 2020 meer betrokke te wees by die kinderhuis.
Hy het sy besondere dank uitgespreek teenoor die vrywilligers van Meals on Wheels vir hul onbaatsugtige diens sonder vergoeding.
Crystal Muller, administratiewe hoof van Huis Triomf, het Meals on Wheels namens die seuns en die bestuur bedank.
Volgens Kumutu bestaan Meals on Wheels reeds 55 jaar in Suid-Afrika en voorsien jaarliks sowat 29 miljoen etes aan senior burgers en persone met gestremdhede.
Die organisasie is die laaste agt jaar op Oudtshoorn aan die gang en voorsien maandeliks tussen 18 000 en 19 000 etes aan senior burgers, persone met gestremdhede en kwesbare kinders.
Dit gaan tans moeilik met Huis Triomf om kop bo water te hou omdat die subsidie wat die tehuis van die staat ontvang nie al die kostes dek nie. Die seuns wat in die tehuis gehuisves word, word deur die kinderhof daar geplaas.
Inwoners en ondernemings van Oudtshoorn en die Suid-Kaap wat bereid is om tot Huis Triomf by te dra kan vir navrae 044 272 2550 of 060 699 5316 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'