OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se aangewese burgemeester, Chris McPherson, het vanoggend reageer op ‘n stemboodskap wat sedert gister deur Brett Herron van GOOD versprei is.
Volgens die inligting oor die opname, sê Herron dat McPherson met ‘n lid van die munisipaliteit se ouditkomitee praat oor ‘n geheime trustrekening waarin geld wat deur die Aeroklub op Oudtshoorn ingevorder word, oorbetaal is eerder as om dit aan die munisipaliteit oor te betaal.
Die inligting sê nie wanneer die opname gemaak is en wat die agtergrond daarvan is nie.
Volgens McPherson is die opname sonder sy medewete teen die einde van 2012 gemaak toe hy met drie inwoners, waarvan een op die ouditkomitee was, gesels het oor die lughawe.
Op daardie stasium was hy besig om agter die skerms aan die Vision 2030 projek te werk om beleggings na Oudtshoorn te lok en huurgeld wat oorbetaal moes word het onder gesprek gekom. “Daar was destyds ‘n ondersoek na die kwessie, maar daar is gevind dat daar nie ‘n geheime trustrekening was nie, die rekening wat wel daar was, was op rekord.”
McPherson sê die spesifieke gedeelte van die gesprek wat opgeneem is, het reeds in 2016 kort voor die plaaslike verkiesing die ronde gedoen en daar is vermoed dat iemand wat gehoop het om as raadslid vir die DA te staan dit verprei het nadat die persoon nie as kandidaat aanvaar is nie.
“Die opname het toe verdwyn en nou, ‘n paar dae voordat ek as burgemeester ingestem moet word, kom dit skielik weer na vore,” het hy vanoggend gesê.
Hy het gesê dat hy besig is om al die relevante inligting bymekaar te sit vir ‘n volledige verslag om die aantygings in perspektief te stel. Intussen sê hy hy het die dienste van Christo van der Berg, van Coetzee en van der Berg-prokureurs, bekom om regstappe te neem teen individue wat die afgelope paar dae lasterlike uitlatings oor hom op sosiale media gemaak het. Hy win ook regsmenings in oor stappe teen die administrateur van Facebook-blad waarop die uitlatings gemaak is.
Intussen is McPherson se verkiesing as burgemeester uitgestel nadat die speaker, Julia le Roux, vanoggend kort voor die spesiale raadsvergadering inderhaas na haar familie toe moes gaan nadat sy nuus ontvang het dat haar ma se siektetoestand ernstig versleg het.
Die Oudtshoorn Courant het ‘n navraag aan die munisipaliteit gestuur om te bevestig wat die huur van die lughawe beloop en sal ook met die voorsitter van die Aeroklub, wat die bestuur van die lughawe behartig, kontak maak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'