OUDTSHOORN NUUS - Tydens die onlangse teedrink-byeenkoms vir die Tagtig Plussers van die Mosselbaai NG-moedergemeente is daar terselfdertyd ook die verjaarsdag en lewe van een van die oudste lidmate gevier.
Martha van Eck (gebore Cronjé) is op 22 September 1927 in Somerset-Wes gebore en het vanjaar 95 geword.
Sy het in Riversdal opgegroei en het daar met Piet van Eck in die huwelik getree.
Martha het haar lewe gewy aan die grootmaak en opvoeding van haar vyf kinders. Nadat hulle die huis verlaat het, het sy egter nie ophou kinders grootmaak nie - sy het as huismoeder by Loeloeraai Kinderhuis in Oudtshoorn begin werk.
Daar het sy na ongeveer 12 kinders op 'n slag omgesien.
In 1995 het hulle na Mosselbaai verhuis waar Piet 13 jaar gelede oorlede is. Hulle was 62 jaar gelukkig getroud. Sy het toe na Kenani verhuis en het ywerig by byeenkomste gehelp. Die afgelope paar jaar woon sy by haar dogter, Joanie Erasmus in Mosselbaai. Martha is steeds gesond en baie aktief in en om die huis.
Sy skryf haar lang lewe toe aan die genade van God, om nie ledig te wees nie en om omring te wees van die mense wat vir haar lief is. Haar kinders, 11 kleinkinders, 19 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind is haar trots en rykdom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'