OUDTSHOORN NUUS - As deel van die burgemeester se onderneming om geweld teen vroue en kinders aan te spreek, word ‘n optog deur mans Saterdagoggend beplan.
Volgens Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeester se kantoor, word alle mans genooi om Saterdagoggend om 08:30 by die Bridgton-sportterrein byeen te kom.
‘n Optog begin om 09:00 vanaf die sportterrein tot by Bongolethu-polisiestasie waar ‘n memorandum aan vroue oorhandig sal word waarin mans onderneem om geweld teen vroue teen te staan.
Na die oorhandiging van die memorandum stap die mans en vroue wat wil aansluit by die Bongolethu-sirkel verby terug na die sportterrein.
Saterdagaand om 19:30 word die Kersliggies op die area langs die museum aangeskakel as simbool van die mans se onderneming om geslagsgeweld teen te staan.
Lede van die publiek word genooi om die aanskakeling van die liggies by te woon.
Die dag het verder ook spesiale betekenis omdat dit internasionale Menseregtedag is en dit is die datum waarop Suid-Afrika se Grondwet 26 jaar gelede onderteken is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'