Update
OUDTSHOORN NUUS - Linda Marques wat reeds vir 18 jaar by die KKNK en Kunste Onbeperk betrokke is, is pas as die maatskappy se algemene bestuurder aangestel. Sy was vantevore die projekbestuurder van die Voorbrandfees en het dié projek vir 13 jaar gekoördineer. Kunste Onbeperk is die maatskappy wat jaarliks die KKNK en Klein Karoo Klassique aanbied.
Volgens Marques is sy ontsettend lief vir straatteater, dans, musiek en visuele kuns, veral as dit 'n bietjie vreemd of absurd is. "Ek het enorme ontsag vir enige kunstenaar wat op die verhoog staan en homself blootstel, en dit is iets wat my as mens baie inspireer."
"My droom vir die maatskappy is dat ons deur die projekte en programme wat ons aanbied, mense se lewens sal raak en hoop gee waar daar dalk nie is nie. Ek glo met my hele hart dat die kunste 'n enorme bydrae lewer tot die herstel van gemeenskappe, en ek twyfel nie in Kunste Onbeperk se vermoë om hierdie rol in ons omgewing te vervul nie"
Sy sê sy wil op die vooraand van die 25ste KKNK haar hoed lig vir al die mense wat sedert die ontstaan van die fees in 1995 'n groot bydrae tot dié fees gemaak het.
Lees 'n vorige artikel: Nuwe algemene bestuurder by Kunste Onbeperk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'