OUDTSHOORN NUUS - Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn aanbied, het onlangs Linda Marques as algemene bestuurder aangestel.
Marques is reeds vir 18 jaar by die KKNK betrokke. Sy was vantevore die projekbestuurder van die Voorbrandfees en het dié projek vir 13 jaar gekoördineer.
Volgens Marques is sy ontsettend lief vir straatteater, dans, musiek en visuele kuns, veral as dit ‘n bietjie vreemd of absurd is. "Ek het enorme ontsag vir enige kunstenaar wat op die verhoog staan en homself blootstel, en dit is iets wat my as mens baie inspireer."
Marques sê dat haar droom vir die KKNK-maatskappy is dat ons deur die projekte en programme wat ons aanbied, mense se lewens sal raak en hoop gee waar daar dalk nie is nie. "Ek glo met my hele hart dat die kunste ‘n enorme bydrae lewer tot die herstel van gemeenskappe, en ek twyfel nie in Kunste Onbeperk se vermoë om hierdie rol in ons omgewing te vervul nie"
"In hierdie verband wil ek graag op die vooraand van die 25ste fees my hoed lig vir mense wat in die verlede en tot op hede 'n groot bydrae tot dié fees gemaak het," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'