OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Oudtshoorn wat glo 'n vrou vasgebind en verkrag het, is na die getuienis van die vrou vir verdere getuienis uitgestel.
Die 26-jarige vrou het in camera getuig wat die beskuldigde, Gerald Tom, die betrokke dag aan haar gedoen het.
Tom het onskuldig op die klag van verkragting gepleit.
Sy het die hof meegedeel dat hy haar op 'n slinkse wyse na sy ghetto in die GG-kamp laat kom het met die meedeling dat haar kêrel ook daar was. Dit was egter nie die geval nie.
Sy het getuig dat sy Tom deur haar vriend ontmoet het. Hy het haar na sy slaapkamer gedwing, op die bed vasgedruk en eers haar mond toegebind. Nadat hy ook haar hande agter haar rug vasgebind en ontklee het, het hy haar verkrag.
Sy het getuig dat hy haar met die dood gedreig het as sy nie die bewyse, soos haar broekie, vernietig nie.
Sy het die hof meegedeel dat sy baie bang is vir Tom omdat hy ook gedreig het dat hy haar sal toor.
Die hof het op 'n stadium verdaag nadat sy die hof meegedeel het dat Tom "iets in sy mond" het.
Tom se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, en die hofordonnans het gekyk, maar niks in die beskuldigde se mond gesien nie.
Die vrou het voorts onder kruisverhoor ontken dat sy ooit sonder haar kêrel saam met Tom gekuier het of dat hulle vir 'n tyd lank saam met hom op dieselfde perseel gewoon het.
Die saak dien voor streeklanddros Daniël Boks.
'Ons bring jou die nuutste Outdshoorn, Klein Karoo nuus'