PRINS ALBERT NUUS - ‘n 30-jarige man, wat sy meisie met brandende plastiek verbrand het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof aan poging tot moord skuldig bevind.
Celeste Sass het getuig dat Benjamin Jonas haar op 6 November 2020 by 'n vriendin se huis kom haal en R50 van haar gevat het.
Sy was kwaad en hom gevolg tot by sy hok waar sy hom met klippe begin gooi het.
Volgens haar het hy toe uitgekom met 'n ysterbak waarin brandende plastiek was en dit in haar rigting gegooi.
LEES: Man aangekla van poging tot moord
Die plastiek het aan haar gesig vasgekleef en sy het brandwonde opgedoen waarvoor sy vir twee weke behandeling in ‘n hospitaal in George ontvang het.
Jonas het onskuldig gepleit en beweer dat dit eintlik Sass was wat die brandende plastiek na hóm gegooi het.
Die brandende plastiek het toe op haar geval toe hy probeer keer het.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof egter gevra om Jonas se verweer te verwerp.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat Jonas se weergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie en hom aan poging tot moord skuldig bevind.
Die saak is vir vonnis uitgestel tot 14 Julie en Jonas bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'