OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Prins Albert, wat van poging tot moord aangekla word nadat hy glo sy meisie met brandende plastiek verbrand het, is vir uitspraak in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel.
Die 30-jarige Benjamin Jonas se meisie, Celeste Sass, het getuig dat hy haar op 6 November 2020 by 'n vriendin se huis gaan haal het en R50 van haar gevat het.
Volgens Sass is hulle al agt jaar in 'n verhouding. Sy was kwaad en het hom gevolg tot by sy hok waar sy hom met klippe begin gooi het. Volgens haar het hy toe met 'n ysterbak waarin brandende plastiek was uitgekom en dit in haar rigting gegooi.
Die plastiek het aan haar gesig vasgekleef en sy het brandwonde opgedoen waarvoor sy vir twee weke behandeling in 'n hospitaal in George ontvang het. Jonas pleit onskuldig en voer aan dat dit eintlik Sass was wat die brandende plastiek na hom gegooi en dit op haar geval het toe hy probeer keer het.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, vra die hof om Jonas se weergawe te verwerp en hom aan poging tot moord skuldig te bevind.
Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en is vir uitspraak tot 14 Junie uitgestel. Jonas bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'