OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat 'n swanger vrou verkrag en beroof het en ook aan huisbraak skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof altesaam 31 jaar tronkstraf, effektiewelik 27 jaar, opgelê.
Die 23-jarige Morné Veldsman het 'n ma van drie kinders, wat van 'n 21ste partytjie huis toe onderweg was, verkrag en van haar selfoon beroof, en vroeër ook by die huis van Edwin Malgas ingebreek en verskeie items gesteel.
Sy weergawe dat hy en 'n vriend, wat nie voor die hof gebring is nie, deur die vrou beloon is omdat hulle glo haar lewe gered het, is deur die hof verwerp.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnis-oplegging gesê Veldsman het 'n leidende rol in die verkragting gespeel en toon geen berou nie.
Hy en sy vriend het die vrou om die beurt verkrag terwyl twee ander mans wat haar glo van haar geld wou beroof, toegekyk het. Al vier het na die verkragting weggehardloop.
Volgens die landdros is die minimum vonnis vir groepsverkragting lewenslange gevangenisstraf en vir roof met verswarende omstandighede vyftien jaar.
Die hof het egter bevind dat lewenslange gevangenisstraf skokkend onvanpas sal wees omdat Veldsman "manmoedig" alleen voor die hof gestaan het en 'n eerste oortreder is.
"Wat kommerwekkend is," het die landdros gesê, "is die feit dat al hoe meer jongmense vandag by misdaad betrokke raak".
Veldsman is 20 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting, agt jaar vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal.
Die hof het gelas dat die helfte van die vonnis vir roof samelopend met die vonnis vir verkragting uitgedien kan word, wat 'n effektiewe tronkstraf van 27 jaar beteken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'