OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Wynandsrivier wat van verkragting en ernstige aanranding van sy swanger saamleefmaat aangekla is, is in die Oudtshoorn-streekhof 'n opgeskorte vonnis opgelê en onder huisarres geplaas.
Chris Geduld (25) het skuldig gepleit op die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer terwyl die klagte van verkragting deur die staat teruggetrek is.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging aan Geduld gesê dat hy hom 'n laaste kans gee.
"Dit moet vandag stop. U is baie gelukkig. Streng gesproke moes ek vandag net oë toemaak en u vir lang tronktoe gestuur het. Om 'n swanger vrou aan te rand is laakbaar," het die landdros gesê.
Geduld is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook tot 24 maande korrektiewe toesig gevonnis.
Dit behels dat hy 24 uur per dag onder huisarres is, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, vier uur per week vryetydsbesteding het, 16 uur per maand gemeenskapsdiens moet doen en dat hy hom weerhou van die gebruik van alkoholiese drank.
Hy moet ook die rehabilitasieprogramme van die departement korrektiewe dienste bywoon en nie van adres verander sonder kennisgewing nie.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'