OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man (28) wat 'n pensioenaris beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof sewe jaar tronkstraf opgelê.
Ronaldo Rhode is daaraan skuldig bevind dat hy die 66-jarige Aubrey Claassen van meer as R600 beroof het wat Claassen vroeër die dag by 'n onderneming in St. Johnstraat geleen het.
Hy het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy net die R300 wat Claassen hom vir twee kassetspelers geskuld het, uit sy broeksak gehaal het. Hy het ook ontken dat hy 'n mes teen Claassen se nek gedruk het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Rhode se weergawe te verwerp omdat hy dit aanpas..
Claassen se vrou, Katrina, het getuig dat Rhode uit die dorp saam met hulle gestap het. Toe hulle in Kameelweg kom het hy haar man van agter, met 'n mes in sy een hand, om die nek gegryp, die geld uit sy broeksak gehaal en weggehardloop.
Haar getuienis is deur haar dogter, Christina Pretorius, gestaaf. Sy het ook Rhode se weergawe dat hulle saam gedrink het terwyl hulle by 'n bushalte in Poplarstraat gesit het as leuens afgemaak.
Streeklanddros Retha Pretorius het Rhode skuldig bevind soos aangekla en hom tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'