OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Dysselsdorp, wat die bestuurder was van 'n motor wat in 2022 op die Calitzdorp-pad in 'n ongeluk betrokke was waartydens 'n pa en sy seuntjie hul lewens verloor het, is in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind aan twee aanklagte van strafbare manslag en een van nalatige bestuur.
Die 42-jarige Ivan Lewis het in 'n pleitverduideliking erken dat hy op 17 Junie 2022 nalatig bestuur en die dood van die 44-jarige Casper Oberholzer en sy 11-jarige seuntjie, Petrus Oberholzer, veroorsaak het.
Lewis was die bestuurder van sy werkgewer se Toyota Hilux-bakkie en het teen 'n spoed van 100km/h gery.
Lewis sê in sy pleitverduideliking, wat deur die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, aanvaar is, dat hy hom misgis het met die spoed van 'n voertuig voor hom en dit getref het.
Hy het daarna na regs geswaai en reg van voor met die voertuig van die Oberholzer-gesin gebots.
Lyzette Oberholzer en haar oudste seun Casper Jnr (15), het die ongeluk oorleef. Lyzette het ernstige beserings in die ongeluk opgedoen.
Streeklanddros Ntsoki Moni het vonnisoplegging tot 29 November uitgestel.
Die voertuig waarin die Oberholzers gery het. Foto's: Sonia Wahl
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’