OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Neppon op Oudtshoorn wat sy neef se Wendy-huis oopgeskop het en hom met 'n skerp voorwerp gesteek het, is verlede Dinsdag in die streekhof vir drie jaar tronk toe gestuur.
Die 27-jarige Vincent Mouton is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om aan te rand en aanranding om ernstig te beseer.
Hy het skuldig gepleit op aanklag van huisbraak met die doel om 'n misdryf onbekend aan die staat te pleeg en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die pleit is egter nie deur streeklanddros Ntsoki Moni aanvaar nie omdat dit volgens haar swak opgestel is. Die hof het bevind dat Mouton die aanval op sy neef beplan het omdat hy hom al vroeër die dag platgeduik het.
Moni het vir vonnisoplegging in ag geneem dat Mouton vir byna ses maande in aanhouding was, maar nie juis berou getoon het vir sy optrede nie.'n Versoek vir 'n opgeskorte vonnis of een van korrektiewe toesig is deur die hof verwerp omdat dit 'n verkeerde boodskap sal uitstuur.
Mouton is tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'