Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man wat daarvan aangekla word dat hy 'n pensionaris beroof het, is vir verdere verhoor in die Oudtshoorn-streekhof tot volgende maand uitgestel.
Ronaldo Rhode word daarvan aangekla dat hy die 66-jarige Aubrey Claassen van meer as R600 beroof het.
Claassen het vroeër die dag by ’n plek in St Johnstraat geld geleen.
Katrina Claassen het getuig dat sy en haar man die betrokke dag R700 geleen het. Sy het R50 gebruik om iets te koop om te eet en die res van die geld vir haar man gegee om te hou.
Volgens haar het sy Rhode die betrokke oggend by die plek sien rondstaan en hy het hulle later agtervolg en in Kameelweg vir 'n sigaret gevra.
Sy het Rhode se getuienis dat hulle by 'n bushalte gesit en drink het as onwaar afgemaak.
Terwyl haar man na 'n huis van 'n familielid in Kamleelweg gestap het, het Rhode hom glo van agter om die nek gegryp, met 'n mes gedreig en al sy geld uit sy sak gehaal.
Volgens hom het hy egter net R300 gevat wat Claassen hom glo geskuld het vir 'n kassetspeler wat hy aan hom verkoop het.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir voortsetting van verhoor tot 20 Maart uitgestel. Rhode bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'