OUDTSHOORN NUUS - 'n Man (24) van Bongolethu, wat van verkragting en aanranding om ernstig te beseer aangekla was, is in die Oudtshoorn-streekhof 'n vonnis ingevolge van Artikel 276 (1) (i) opgelê nadat hy vrygespreek is op aanklag van verkragting.
Damien Minnies is daarvan beskuldig dat hy die aand van 23 Oktober 2021 'n 29-jarige vrou verkrag het en haar op 19 April 2022 ernstig aangerand het.
Minnies het erken dat hy die betrokke aande in die teenwoordigheid van die klaer was. Volgens hom het hy met haar toestemming seks met haar gehad en oor die aanranding het hy getuig dat sy hom met 'n mes gesteek en hy kwaad geword het.
Die klaer het egter getuig dat Minnies haar verkrag het omdat sy hom nie toestemming gegee het nie.
Ten opsigte van die aanranding het sy getuig dat Minnies haar met die dood gedreig het om die saak van verkragting terug te trek.
Nadat sy hom meegedeel het dat die hof dit nie wil doen nie, het hy haar met sy vuiste in die gesig geslaan en ook gewurg. Hy het opgehou toe sy belowe het dat sy die saak sal terugtrek.
Sy het ontken dat sy hom met 'n mes gesteek het.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat die staat nie sy saak ten opsigte van die verkragting bo redelike twyfel bewys het nie en Minnies daarop vrygespreek.
Hy is wel skuldig bevind op die alternatiewe aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die landdros het die twee aanklagte vir vonnis saamgeneem en Minnies ingevolge Artikel 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat bepaal dat hy na die uitdiening van 'n sesde van die vonnis om parool aansoek kan doen.
Elaine Plaatjies het vir die staat verskyn en Cindy Murray-Smith van die Regshulpraad vir Minnies.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'