OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n man wat teregstaan op drie aanklagte van strafbare manslag is verlede Donderdag na die getuienis van die ondersoekbeampte tot Junie uitgestel.
Javier Arends (24), van Oudtshoorn, was die bestuurder van die motor wat op 13 Julie 2019 op die De Rust-pad teen 'n betonmuur gebots het.
Drie van sy vriende, Chandre Nortjé, Jacques Jacklin Prinsloo en Bertram Michaels het aan hul beserings beswyk terwyl Arends ook ernstige beserings opgedoen het. Cassius Ewerts, wat ook in die voertuig was, is beseer.
Oudtshoorn Courant het berig dat die ongeluk net na middernag by die treinbrug ongeveer 6 km buite Oudtshoorn plaasgevind het.
Die VW Golf met vyf insittendes was vanaf Dysselsdorp na Oudtshoorn onderweg toe dit 'n betonversperring links van die pad getref het. Met die aankoms van nooddienste op die toneel was twee insittendes reeds dood.
Die verhoor is met die getuienis van die ondersoekbeampte, kapt. Deon Bouwer, voortgesit nadat die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, nie Arends se pleitverduideliking wou aanvaar nie.
Volgens Bouwer is nalatige bestuur die oorsaak van die ongeluk.
Hy het egter onder kruisverhoor deur Arends se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, erken dat hy nie ‘n kenner ten opsigte van spoed is nie.
Arends erken in sy pleitverduideliking dat hy die bestuurder van die VW Golf was. Hy voer egter aan dat hy, as gevolg van ernstige kopbeserings wat hy in die ongeluk opgedoen het, geen kennis dra van hoe die ongeluk plaasgevind het nie.
Die staat het die hof vir uitstel gevra omdat daar gewag word vir ‘n doktersverslag ten opsigte van Arends se beserings.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is tot 15 Junie uitgestel.
Bertrum Michaels
Chandre Nortjé
Cassius Ewerts
Jaques Jacklin (Boytjie) Prinsloo
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’