CALITZDORP NUUS - 'n Man van Calitzdorp, wat aan menseroof en aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof 'n vonnis van agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Jacobus Jaftha (40) het onskuldig gepleit op die aanklag dat hy 'n vrou ontvoer en drie keer met 'n mes in die nek en rug gesteek het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om Jaftha vir lank uit die gemeenskap te neem.
"Hy is nie 'n eerste oortreder nie en dit is duidelik dat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking op hom gehad het nie. Die klaer en ook ander mense is bang vir hom. Hy het die misdade ook kort nadat hy op parool vrygelaat was gepleeg."
Jaftha se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat die beserings van die klaer nie ernstig was nie. Sy is eers 'n paar dae na die voorval na 'n dokter.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het met vonnisoplegging Jaftha se meer as drie jaar in aanhouding in aanmerking geneem. Die vrou se beserings was ook nie lewensgevaarlik nie.
"Die gemeenskap moet egter teen mense soos u beskerm word. Voorts moet gepaste vonnisse opgelê word om seker maak dat mense nie hul vertroue in die hof verloor en die reg in eie hande neem nie," het die landdros gesê.
Jaftha is op die aanklag van menseroof tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis en vir aanranding met die opset om ernstig te beseer tot vyf jaar, waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien kan word.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'