OUDTSHOORN NUUS - Die polisie het onlangs 'n 32-jarige verdagte op aanklag van roof in hegtenis geneem nadat hy na bewering 'n man, wat hom 'n saamrygeleentheid gegee het, beroof het.
Volgens ao. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die voorval op die George-pad plaasgevind.
"Die verdagte en twee ander persone het 'n saamrygeleentheid agter op 'n bakkie by 'n 50-jarige man gekry. Die verdagte het die man van sy selfoon en kontant beroof."
Volgens Micheals het die bestuurder van die bakkie by 'n vulstasie in Oudtshoorn gestop waar die verdagte afgespring en weggehardloop het.
"Die verdagte is kort daarna in Dassieweg gearresteer en het reeds Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn."
Daar is ook 'n 29-jarige man, in 'n onverwante voorval, vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.
Micheals sê die polisie het inligting ontvang oor 'n persoon wat moontlik dwelms besit.
"Die taxi waarin hy op pad was Unieplein toe is afgetrek. Die polisie het beslag gelê op 56 sakkies tik en drie Mandrax-tablette."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'