PRINS ALBERT NUUS - 'n Man van Prins Albert, wat die aand van 13 Maart 2021 vir Jakob Williams (40) in sy eie erf geklap en met ‘n mes in die nek gesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof sewe jaar tronkstraf opgelê nadat hy aan poging tot moord skuldig bevind is.
Jonathan Fransen (24) se weergawe dat Williams homself tydens ‘n worsteling tussen hulle raak gesteek het, is deur die hof as onwaarskynlik bevind.
Volgens Williams se elfjarige dogter, het haar pa pas wakker geword toe hy vir Fransen en sy vriend, Brandon Jantjies, gevra het om nie teen sy heining te lê nie.
Jantjies het toe vir Fransen gevra of hy so met hom laat praat, waarna Fransen die erf binne gegaan en haar pa geklap en met ‘n lang mes gesteek het.
Sy het getuig dat Fransen nie die waarheid praat wanneer hy sê dat hy die mes by haar pa wou afneem, en haar pa in die worsteling homself per ongeluk raak gesteek het nie.
Sy het gesien dat haar pa vir Fransen teruggeklap het, waarna Fransen 'n lang mes met ‘n swart hef uitgehaal en haar pa eenkeer gesteek het, Fransen het na die voorval weggehardloop.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir Fransen se skuldigbevinding gevra omdat Williams homself nie kon steek nie, aangesien die steekwond op die doktersverslag as lewensgevaarlik beskryf was.
Streeklanddros, Ntsoki Moni, het bevind dat die klaer se getuienis dié van sy dogter staaf.
“Dit is net nie moontlik dat iemand wat pas wakker geword het met ‘n mes uit sy huis gaan nie,” het Moni gesê.
Op ‘n opmerking van Fransen dat hy nou klaar is met misdaad, het Moni gesê sy hoop dat hy by die belofte sal bly en dit van hom ‘n man sal maak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'