Update
TUINROETE NUUS - Vonnisoplegging van 'n man (44) van Mosselbaai wat in die Oudtshoorn-streekhof aan moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is, is Maandag na die argument van die staat en die verdediging tot gister, 20 Julie, uitgestel.
Morné Meyer is daaraan skuldig bevind dat hy op 1 Junie 2019 vir Shannon (Ghosey) Kannemeyer vermoor het deur hom met 'n mes in die bors te steek, en vir Cheslin Kiewiets ernstig aangerand het deur hom in sy linkerwang en kop te steek.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Meyer se getuienis dat hy homself verdedig het verwerp omdat dit hoogs onwaarskynlik is.
Kiewiets het getuig dat hy saam met die oorledene na Jason Kriel se huis was vir 'n braai waar hulle toe die beskuldigde ook gekry het.
Kannemeyer het 'n bottel Rum, ys en 'n 2 liter Coke saamgeneem.
Daar was later 'n woordewissling tussen Meyer en die oorledene oor iets wat glo die vorige week tussen hulle gebeur het. Meyer het die oorledene met die vuis in die gesig gestamp en hy het geval. Kannemeyer was bewusteloos en toe hy bykom is hulle daar weg.
Hulle is later saam met Samantha du Preez, die oorledene se meisie, terug om die Rum, ys en Coke te gaan haal. Hy het ontken dat die oorledene 'n mes by hom gehad het.
Volgens hom het hy en die beskuldigde met mekaar baklei en mekaar gesteek. Hy het op 'n stadium op die grond gelê en gesien die beskuldigde gaan na die oorledene.
'n Oomblik later het hy gesien die oorledene hou sy bors vas, maar het nie gesien dat die beskuldigde hom gesteek het nie.
Meyer het ontken dat hy 'n mes of 'n klein panga by hom gehad het en die oorledene en Kiewiets gesteek het.
Die hof het egter bevind dat die vyf staatsgetuies betroubare getuies was en geen rede bestaan om dit nie te aanvaar nie. Hulle het mekaar selfs onder kruisverhoor nie weerspreek nie.
Volgens die landdros het die bekskuldigde homself egter weerspreek en leuens in die hof vertel terwyl 'n verdedigingsgetuie die weergawes van die staatsgetuies gestaaf het.
"Die beskuldigde wou hê die hof moet meen iemand anders het die oorledene gesteek. Die oorledene het sy lewe verloor as gevolg van die steekwond wat die beskuldigde hom in sy bors toegedien het. Dit was onwettig en onregverdig en hy het nie uit selfverdediging opgetree nie. Die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys en die beskuldigde word skuldig bevind aan moord en aanranding met die opset om ersntig te beseer," het die landdros gesê.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, vra die hof om nie af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar nie omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede daarvoor bestaan nie.
Die staat sal volgens Pretorius nie beswaar maak indien die vonnisse vir die twee aanklagte samelopend uitgedien kan word nie.
Meyer se regsverteenwoordiger, Bradley Michaels, vra die hof om in ag te neem dat hy reeds langer as vier jaar in aanhouding is en wel buitengewone omstandighede bestaan om 'n mindere vonnis as 15 jaar op te lê.
Familie en vriende van Shannon (Ghosey) Kannemeyer Maandagmiddag voor die Oudtshoorn landdroshof. Foto: Garnett Wicomb
Vorige artikel: Mosselbaai-man in tronk oor moord en aanranding
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’