TUINROETE | KAROO NUUS - 'n Man van Mosselbaai is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof aan moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind. Vonnisverrigtinge is tot 22 Mei vir korrektiewe- en proefbeampteverslae uitgestel soos deur die verdediging versoek is.
Morné Meyer (44) is daaraan skuldig bevind dat hy op 1 Junie 2019 vir Shannon (Ghosey) Kannemeyer vermoor het deur hom met 'n mes in die bors te steek en vir Cheslin Kiewiets ernstig aangerand het deur hom in sy linkerwang en kop te steek.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Meyer se getuienis, dat hy homself verdedig het, verwerp omdat dit hoogs onwaarskynlik is.
Kiewiets het getuig dat hy saam met die oorledene na Jason Kriel se huis was vir 'n braai waar hulle toe die beskuldigde ook gekry het. Kannemeyer het 'n bottel Rum, ys en 'n 2 liter Coke saamgeneem. Daar was later 'n woordewisseling tussen Meyer en die oorledene oor iets wat glo die vorige week tussen hulle gebeur het.
Meyer het die oorledene met die vuis in die gesig gestamp en hy het geval. Kannemeyer was bewusteloos en toe hy bykom is hulle
daar weg. Hulle het later saam met Samantha du Preez, die oorledene se meisie, teruggegaan om die Rum, ys en Coke te gaan haal. Kiewiets ontken dat die oorledene 'n mes by hom gehad het.
Volgens Kiewiets het Meyer en die beskuldigde met mekaar baklei en mekaar gesteek. Hy het op 'n stadium op die grond gelê en gesien die beskuldigde gaan na die oorledene. 'n Oomblik later het hy gesien hoe die oorledene sy bors vashou, maar nie gesien het dat die beskuldigde hom gesteek het nie.
Meyer het ontken dat hy 'n mes of 'n klein panga by hom gehad het en die oorledene en Kiewiets gesteek het. Die hof het egter bevind dat die vyf staatsgetuies betroubare getuies was en geen rede bestaan om dit nie te aanvaar nie. Hulle het self onder kruisverhoor nie mekaar weerspreek nie.
Volgens die landdros het die beskuldigde homself egter weerspreek en leuens in die hof vertel terwyl 'n verdedigingsgetuie die weergawes van die staatsgetuies gestaaf het.
"Die beskuldigde wou hê die hof moet meen iemand anders het die oorledene gesteek. Die oorledene het sy lewe verloor as gevolg van die steekwond wat die beskuldigde hom in sy bors toegedien het. Dit was onwettig en onregverdig en hy het nie uit selfverdediging opgetree nie. Die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys en die beskuldigde word skuldig bevind aan moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer" het Mandla gesê.
Die familie van die oorledene, wat van Mosselbaai gereis het vir die saak, het vroeër die oggend aangedring dat die beskuldigde in George, waar hy aangehou word, gehaal word toe hulle hoor dat hy nie deur die polisie na Oudtshoorn gebring is nie.
Hulle het na die uitspraak hul tevredenheid uitgespreek en gesê hulle wil graag sien dat geregtigheid geskied.
Corné Pretorius was die aanklaer in die saak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’