DYSSELDORP NUUS - 'n Man van Dysselsdorp, wat 'n 22-jarige vrou verkrag het nadat haar mansvriend uit vrees vir sy lewe weggehardloop het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof 10 jaar gevangenisstraf opgelê.
Henrico Lewis het die jong vrou wat hy ken en haar vriend onder 'n bruggie gesien sit en met 'n mes gedreig waarna haar kêrel weggehardloop het om hulp te gaan soek.
Hy het die vrou verder met die mes gedreig en verkrag.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof versoek om nie van die minimum vonnis van tien jaar af te wyk nie omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede voor die hof aangehoor is om dit te doen nie.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Shawn Ferreira, het die hof vir 'n gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die verkragtingsyfer in Suid-Afrika is skokkend hoog en kom ook algemeen in die hof se bedieningsgebied voor.
Die klaer het getuig dat sy vernederd voel oor wat met haar gebeur het en die hof moet 'n duidelike boodskap uitstuur dat geen genade aan oortreders betoon sal word nie.
"Selfs die minimum voorgeskrewe vonnisse skrik nie meer oortreders af nie en die hof het 'n plig om te kyk na die gemeenskap sowel as die klaer se belange.
Volgens die landdros het hy gekyk na die beskuldigde se optrede in die hof en het hy nie 'n goeie indruk gemaak nie.
Hy sou nog swaarder gestraf geword het indien hy die wapen sou gebruik het om die vrou seer te maak.
Lewis is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Dysseldorp, Klein Karoo nuus'