OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van Calitzdorp is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof as gewoonte misdadiger verklaar en sy mede-beskuldigde gewaarsku dat hy ‘n volgende keer, ook tot een verklaar kan word.
Kobus Minnaar (30) en die Neville Tiemie (40), albei met talle vorige veroordelings agter hul name, is in die distrikshof aan huisbraak en diefstal skuldig bevind waarna die saak vir vonnis na die streekhof oorgeplaas is.
Albei het skuldig gepleit en aangevoer dat hulle honger was.
Hulle het by ‘n huis in Gamka-Wes ingebreek toe die eienaar met vakansie was en verskeie waardevolle items en kruideniersware ter waarde van meer as R7 000 met ‘n kruiwa weggery. Net die kruiwa en ‘n panga van die eienaar is teruggevind.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof versoek om albei vir lank tronk toe te stuur omdat die gemeenskap, en veral die inwoners van Calitzdorp, moeg is vir misdaad en beide beskuldigdes se rekords deurtrek is van oneerlikheid.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat die twee beskuldigdes in groepsverband opgetree en beplan het om die misdaad te pleeg wat algemeen in die streek voorkom.
Tiemie wat al by ‘n vorige geleentheid vyftien jaar tronkstraf opgelê is, is tot gewoonte misdadiger verklaar omdat hy volgens die hof uit gewoonte misdaad pleeg en lank agter slot en grendel geplaas moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’