OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu wat van moord en twee klagtes van aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof tien jaar gevangenisstraf opgelê.
Die 48-jarige Patrick Blom is daaraan skuldig bevind dat hy op 8 Januarie 2016 vir Luzuko Jack in Sesdelaan, Bongolethu doodgesteek het.
Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy vir Jonathan Abrahams met 'n bottelkop gesteek en sy skoonpa, Joseph Mduma, geskop en met 'n onbekende skerp voorwerp gesteek het.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het bevind dat hoewel niemand gesien het dat Blom vir Jack doodgesteek het nie, dit volgens getuienis die enigste afleiding is wat die hof kon maak.
Die landdros het in ag geneem dat Blom reeds vir byna twee jaar in aanhouding was en wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'