OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu, wat 'n bejaarde vrou in haar eie huis verkrag en beroof het, is die week in die Oudtshoorn-streekhof op aanklag van verkragting, roof met verswarende omstandighede en diefstal skuldig bevind en vir 34 jaar tronk toe gestuur.
Die 41-jarige Johannes Marenene het die oggend van 3 Maart vanjaar by die woning van die 61-jarige vrou aangekom met die voorwendsel dat hy iets aan haar wil verkoop. Sy was besig om vir kerk klaar te maak en haar kospotte was al op die stoof. Sy het hom geken en hom egter laat inkom toe hy vir water vra.
Terwyl sy by die stoof gestaan het, het Marenene haar van agter om die nek gegryp, gewurg en haar een arm op die warm stoof gedruk.
Daarna het hy 'n vuurwapen, 'n mes en 'n kort gholfstok uit 'n sak gehaal en die vrou na haar slaapkamer gedwing.
Hy het haar gedwing om hom te masturbeer en haar daarna ook verkrag.
Hy het toe haar tablet en geld gevat, en gewaarsku om vir niemand daarvan te vertel nie.
Die vrou het met haar getuienis hofgangers in trane gehad toe sy vertel het dat sy by Marenene gepleit het om haar asseblief nie seer te maak nie.
Sy het Maraenene geken omdat hy in dieselfde straat gewoon het en sy hom op 'n keer gevra het om 'n boom vir haar te plant.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof versoek om Marenene permanent uit die samelewing te neem en dat die hof 'n duidelike boodskap moet uitstuur.
Streeklanddros Daniël Boks het in sy uitspraak Marenene se getuienis verwerp en sy optrede as walglik beskryf. Hy het ten spyte van verdoemende getuienis teen hom net skuldig gepleit op die aanklag van diefstal waarmee hy homself op die toneel plaas.
Dr. Milton Groenewald se getuienis, dat hy duidelike tekens van gedwonge penetrasie waargeneem het, staaf die vrou se getuienis dat sy verkrag is. Sy het ook onmiddellik na die voorval in haar nagklere na bure oorkant die pad gehardloop.
Die landdros het die aanklag van verkragting en masturbasie vir vonnisdoeleindes saamgeneem en Marenene daarvoor tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hy is tot agt jaar vir roof met verswarende omstandighede en ses jaar vir diefstal gevonnis.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'