OUDTSHOORN NUUS - 'n Pa van drie kinders het Maandagmiddag petrol oor homself uitgegooi en hom daarna, ten aanskoue van sy familie, aan die brand gesteek.
Volgens Johnathan Thomas (47) se broer Miggel, het hy Maandag huis toe gekom en 'n woordewisseling met hul oorlede suster se seun gehad.
Die familie woon by Onverwacht agter die saagmeule.
"Die bakleiery het oor tikgeld gegaan wat die kind wou hê en toe slaan hy my broer met 'n kolf."
Thomas sê sy broer het toe na sy kamer toe gegaan en dit is daar wat hy homself aan die brand gesteek het.
"My broer het aanhoudend geskree. Ons het so groot geskrik. My dogter was besig om wasgoed te was en toe gooi ek die skottel water met klere en al oor hom uit. Dit het gelyk of die water die vlamme erger maak en ek het 'n kombers om hom gedraai en toe gaan die vlamme dood. Hy het erg gebrand.
"Die bakleiery is iets wat gereeld gebeur het en ek dink my broer het breekpunt bereik. Hy is ook depressielyer en ek dink dinge het maar net op daardie stadium te veel geraak vir hom."
Volgens Thomas is dit egter die eerste keer wat sy broer sy eie lewe probeer neem.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het Woensdag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat Thomas steeds in die waakeenheid by die George-hospitaal is.
"Hy was Dinsdag nog in 'n kritieke toestand, maar vandag (Woensdag) was sy toestand stabiel."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'