KAROO NUUS - Vonnisoplegging van ‘n 42-jarige man van Dysselsdorp wat op 17 Junie 2022 ‘n ongeluk op die Calitzdorp-pad veroorsaak het, wat tot die dood van ‘n pa en sy seun gelei het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot volgende jaar uitgestel.
Ivan Lewis is skuldig bevind aan twee aanklagte van strafbare manslag en een van nalatige bestuur.
Hy erken in ‘n pleitverduideliking dat hy die betrokke dag nalatig bestuur het en die dood van Casper Oberholzer (44) en sy elfjarige seuntjie van Riversdal veroorsaak het. Hy was die bestuurder van sy werkgewer se Toyota Hilux en het teen ‘n spoed van sowat 100 km/h gery.
Lewis sê in sy pleitverduideliking, wat deur die staatsaanklaer Anzelle Laubscher aanvaar is, dat hy hom misgis het met die spoed van ‘n voertuig voor hom en dit getref het.
Hy het daarna na regs geswaai en reg van voor met die voertuig van die Oberholzergesin gebots.
Lyzette Oberholzer en hul ouer seun Casper jr. (15) het die ongeluk oorleef.
Streeklanddros Ntsoki Moni het vonnisoplegging tot 6 Februarie 2024 uitgestel nadat sy borgtog van R1 000 aan Lewis toegestaan het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’