OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Groenfontein in die Calitzdorp-distrik wat sy ouer broer doodgesteek het, is in die streekhof op Oudtshoorn skuldig bevind aan moord.
Die 23-jarige Niklaas Fortuin het sy broer, Harry, op 5 Mei verlede jaar by die woning van hul tante in Royal Heights, Calitzdorp, vier keer met ‘n mes gesteek omdat hy glo geirriteerd was met sy oproerigheid. Hy het ook die oorledene se kop op 'n sementblad gekap.
Mercia Pretorius het getuig dat Fortuin sy broer wou wegneem van die woning van sy tante nadat hy glo “met almal” daar baklei het en ook sy tante met ‘n mes wou steek.
Fortuin het sy broer tot by die hekkie geneem waar hy hom in die nek en nog drie andere plekke gesteek het.
Hy is daarna terug in die huis waar hy gewag het totdat die polisie opgedaag het en hulle meegedeel het dat hy sy broer gesteek het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê dit is duidelik dat die beskuldigde se lewe nie in gevaar was toe hy sy broer met ‘n mes gesteek het nie.
Die saak is vir vonnisverrigtinge tot 24 April uitgestel en Fortuin se borgtog van R300 is na sy skuldigbevinding ingetrek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'