Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Boer van Aberdeen is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan menseroof en seksuele aanranding van 'n vrou van De Rust skuldig bevind. Vonnisoplegging vir 'n korrektiewe verslag is tot November uitgestel.
Louis Lategan (39) is daarvan aangekla dat hy op 15 Oktober 2021 'n vrou van De Rust, ontvoer en betas het nadat hy haar glo opgelaai en gevra het om te gaan wys waar die Delports woon.
Volgens Cloete het hy in die ry vir haar gevra om haar T-hemp op te trek en het hy haar borste met sy linkerhand betas. Sy het getuig dat sy nie 'n bra aangehad het nie en haar T-hemp opgelig omdat sy nie geweet het of die beskuldigde moontlik 'n wapen by hom gehad het nie.
"Toe hy verby die afdraaipad na die Delports se plaas ry, het ek met handgebare verbygaande voertuigbestuurders se aandag probeer trek."
Sy het hom gevra om te stop omdat sy aan haar kind, kêrel en haar bejaarde ma gedink het, maar hy het net geglimlag. Die beskuldigde het 'n ent verder stilgehou en glo vir haar gesê dat hy haar gaan aflaai "netnou dink die mense hy probeer haar ontvoer".
Hy het haar toe 'n pakkie sigarette gegee.
Die verdagte is later by 'n padblokkade deur die polisie voorgekeer en teruggebring na die De Rust-polisiestasie waar hy aangekla is.
Die slagoffer se suster het getuig dat hulle twee op pad was na De Hoop toe 'n motor by hulle verbygery en skielik stilgehou het. Haar suster het na die motor gedraf en toe die deur oopgaan het sy ingeklim.
"Ek kon sien dat dit 'n groot wit man was wat die motor bestuur het," het sy getuig. Sy het daarna twee fietsryers sien aankom en hulle gevra om die polisie te skakel.
Lategan het in sy getuienis die weergawes van die slagoffer en haar suster as leuens afgemaak. Volgens hom het Cloete hom gestop en gevra om saam te ry. Sy het nooit gesê waar hy moes stop nie en ontken dat hy haar betas of vir haar sigarette gegee het. Volgens hom het sy die sigarette gevat toe hy stilgehou en haar gevra het om uit te klim.
Die staatsaanklaer, Nadfia Arnolds, het die hof vir Lategan se skuldigbevinding gevra omdat sy verweer nie redelik waar kan wees nie.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat die klaer en haar suster betroubare getuies was terwyl die getuienis van die beskuldigde verwerp is.
Die saak is op versoek van Lategan se regsverteenwoordiger, Werner Swanepoel, vir 'n korrektiewe verslag tot 9 November uitgestel en sy borgtog is tot dan verleng.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'