KAROO NUUS - Die saak teen ‘n boer van Aberdeen, wat van menseroof en seksuele aanranding van ‘n vrou van De Rust aangekla word, moes verlede week in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel word omdat die beskuldigde weens siekte nie by die hof was nie.
Louis Lategan (39), het na bewering op 15 Oktober 2021 vir Sonja Cloete (39), net buite De Rust gevra om hom te gaan wys waar die Delports woon.
Volgens Cloete het hy in die ry haar gevra om haar T-hemp op te trek waarna hy haar betas het.
Sy het getuig dat sy haar T-hemp opgelig het omdat sy nie geweet het of die beskuldigde moontlik ‘n wapen by hom gehad het nie.
"Toe hy verby die afdraaipad na die Delports se plaas ry het ek met handgebare verbygaande voertuigbestuurders se aandag probeer trek."
Sy het hom gevra om te stop omdat sy aan haar kind, kêrel en haar bejaarde ma gedink het, maar hy het net geglimlag.
Die beskuldigde het ‘n ent verder stilgehou en glo vir haar gesê dat hy haar gaan uitlaai "netnou dink die mense hy probeer haar ontvoer".
Hy het haar toe ‘n pakkie sigarette gegee.
Lategan is later by ‘n padblokkade deur die polisie voorgekeer en na die De Rust-polisiestasie geneem waar hy aangekla is.
Cloete se suster, Anna Andrews, het getuig dat hulle twee op pad was na De Hoop toe ‘n motor by hulle verbygery en skielik stilgehou het.
Haar suster het na die motor gedraf en toe die deur oopgaan het sy ingeklim.
"Ek kon sien dat dit ‘n groot wit man was wat die motor bestuur het," het sy getuig.
Sy het daarna twee fietsryers sien aankom en hulle gevra om die polisie te skakel.
Lategan het in sy getuienis die weergawes van Cloete en Andrews as leuens afgemaak.
Volgens hom het Cloete hom gestop en gevra om saam te ry. Sy het nooit gesê waar hy moes stop nie en ontken dat hy haar betas of vir haar sigarette gegee het.
Volgens hom het sy die sigarette gevat toe hy stilgehou en haar gevra het om uit te klim.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is Vrydag vir slotbetoë en uitspraak tot 19 Augustus uitgestel.
Lategan is op borgtog vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'