OUDTSHOORN NUUS - Die oorsaak van die dood van Jan Lucas (59) verlede Donderdagoggend by sy huis in Nora Pottstraat, word deur sy vrou bevraagteken.
Volgens Claudia Lucas het haar jongste seun Donderdagoggend op sy pa se liggaam langs die huis afgekom.
"Hy het gekuier by vriende die Woensdagaand. Ek is nie heeltemal seker hoe laat hy huis toe gekom het nie. Ons het hom nie gehoor nie. Hy het Donderdag langs die huis gelê en sy honde het langs hom gelê en hom opgepas."
Volgens haar is die omstandighede van haar man se dood vir haar vreemd en is sy nie tevrede met wat die nadoodse ondersoek gesê het nie.
"Volgens die nadoodse ondersoek het hy weens 'n longkwaal gesterf. Hy het net een long gehad. Wat sy dood egter vir my vreemd maak is die feit dat hy snaakse wonde aan sy liggaam gehad het. Hy het 'n sny aan die linkerkant van sy kop gehad, 'n deel van sy lip was weg sowel as sy tong. Sy oor was af en sy oog was ook uit. Die patoloog het gesê dat dit rotte was wat hom geëet het, maar dit lyk vir my meer of sy oor afgesny is," sê Lucas wat 'n verpleegster by die Mediclinic George is.
"In al my jare as verpleegster het ek nog nie gesien dat 'n rot iemand so eet nie."
Volgens haar is sy bewus van vals gerugte dat sy in hegtenis geneem is en dat sy haar man glo met suur gegooi het.
"Die patoloog sê dan dis natuurlike oorsake. Hoekom sal hulle iemand arresteer vir 'n dood weens natuurlike oorsake?"
Lucas laat vyf kinders agter en word Saterdag 12:00 vanuit die Bridgton Congregational Church begrawe.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat Lucas aan natuurlike oorsake dood is.
"Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'