OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Oudtshoorn wat tereg staan op nege aanklagte van roof, sommige met verswarende omstandighede, een van huisbraak en een van verontagsaming van korrektiewe toesigvoorwaardes, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor tot volgende jaar uitgestel.
Die 25-jarige Brandon Prinsloo het tussen Februarie 2019 en April 2020 verskeie mense van selfone, ‘n fiets, brood, ‘n musiekboks en kontant beroof en sy slagoffers met messe gesteek of gedreig, en met ‘n panga, hokkiestok en saag geslaan.
Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, sal die staat sowat 23 getuies roep.
Die hof het Donderdag die getuienis van twee van sy slagoffers aangehoor.
Dillon Blignault het getuig dat hy op 26 April 2020 met sy fiets op pad was na sy tante se huis in Smartie Town toe vyf of ses mans hom voorgekeer het.
Prinsloo het hom van sy fiets geruk terwyl een van sy vriende hom met ‘n mes gedreig en van sy selfoon beroof het.
Hy ken die beskuldigde omdat hulle naby mekaar woon en die voorval onder ‘n straatlig gebeur het.
In die dae wat daarop gevolg het, het hy die beskuldigde gereeld met die fiets sien rondry en die polisie daaroor ingelig. “Hulle was egter te bang om na die beskuldigde te gaan,” het hy getuig.
Sy Raleigh-fiets was sowat R4 000 werd en sy selfoon sowat R1 700.
Volgens Prinsloo se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, sal hy getuig dat hy nie die klaer ken nie en ontken dat hy hom van sy fiets beroof het.
‘n Tweede klaer, Shumeila Damons, het getuig dat sy die aand van 26 September 2019 haar opslaanhut se deur en vensters toegemaak het voordat sy gaan slaap het.
Sy is omstreeks 05:00 deur Prinsloo wakker gemaak wat haar gevra het om agter toe te lê.
Sy was geskok en het opgestaan, maar toe sy die lig wou aanskakel het hy haar hand vasgegryp en weggehardloop.
Sy het later gevind dat haar selfoon wat onder haar kopkussing was, weg was, asook ‘n duvet, ketel, strykyster en eetgerei. Sy het nie gesien dat die beskuldigde enigiets by hom gehad het nie, maar vermoed dat hy hulp gehad het omdat sy nog voetspoere onder haar oop kamervenster gesien het.
Sy het niks van die gesteelde goedere teruggekry nie.
Die beskuldigde sal volgens sy prokureur getuig dat Damons ‘n “eerlike fout” maak met sy identifikasie.
Die saak is op versoek van die staatsaanklaer, Hyron Goulding, deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 24 Maart 2022 uitgestel. Prinsloo bly in anhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'