OUDTSHOORN NUUS - Gerugte op sosiale media oor 'n persoon in 'n donker voertuig wat moontlik kinders wil ontvoer word deur die Oudtshoorn-polisie ondersoek.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, was daar op geen stadium enige voorvalle aangemeld waar daar 'n kriminele saak geopen is nie en was daar ook nie enige pogings om enige kind te ontvoer nie.
"Daar is op hierdie stadium geen rede om bekommerd te wees nie. Die polisie het met verskeie mense gepraat en daar is sekere inligting aan ons gegee wat ons besig is om op te volg. Die inligting en registrasienommers van voertuie stem nie op die stadium ooreen nie. Dit wil voorkom of dit 'n swart voertuig is, maar kan moontlik net donker van kleur ook wees."
Visser het verder gesê dat die bestuurder van 'n donker of swart voertuig aangebied het om 'n kind 'n geleentheid skool toe te gee en dat 'n soortgelyke voertuig naby 'n skool gesien is en moontlik foto's geneem het van kinders.
"Ongelukkig was die voertuig reeds weg met die polisie se aankoms. Ons volg alle inligting op en versoek ouers om veral jonger kinders nie alleen skool toe en terug huis toe te laat loop nie." Visser het ouers gemaan om met hulle kinders te praat en hulle onder geen omstandighede toe te laat om by vreemde persone in 'n kar klim nie.
"As daar konfrontasie is en kinders word genader moet alarm gemaak word, al is dit deur te gil en skree. Probeer om die registrasienommer van die kar, maak, kleur en unieke kenmerke soos skade of merke aan die kar te bekom." Visser sê die publiek moet asseblief nie reg in eie hande neem nie. Skakel die polisie by 044 203 9022 of 079 893 9968.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'