Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong man van Bongolethu is vyf jaar tronkstraf opgelê vir voertuigdiefstal en die bestuur van 'n voertuig sonder 'n rybewys.
Selravno Lloyd (21) het op 16 Maart 2021 'n geparkeerde voertuig in Parkweg gesteel. Hy het daarna 'n familielid opgetel en tot by Moerasrivier gery.
"Die voertuig het op 'n skerp draai aan die verkeerde kant van die pad, half op die ryvlak gestaan. Dit het 'n gevaar ingehou vir ander voertuie en dit kon moontlik 'n ongeluk veroorsaak het," het Vernon Prins, provinsiale verkeersbeampte getuig.
Lloyd het aanvanklik getuig dat hy nie die bestuurder van die voertuig was nie en dat hy dit later aan die eienaar terug sou besorg as hy dit klaar geleen het.
Hy het later 'n bekentenis afgelê dat hy wel die bestuurder van die voertuig was. Lloyd het in sy pleitverduideliking erken dat hy gesien het dat die geparkeerde voertuig se ruit oopstaan, waarna hy ingeklim het en met die motor weggery het.
Die eienaar van die voertuig, Serfaas Faure, het op dié dag vinnig stilgehou en uitgeklim om met werkers van hom te praat. Toe hy terugkeer was sy voertuig weg.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om Lloyd aan voertuigdiefstal skuldig te bevind omdat dit duidelik is dat hy nie intensies gehad het om die voertuig aan die eienaar terug te besorg nie.
Lloyd se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het gevra vir sy vryspraak op klagte van voertuigdiefstal aangesien hy nie die eienaar permanent van sy voertuig wou ontneem nie.
Streekslanddros, Sylvia Mandla, het in haar uitspraak gesê dat sy geen weersprekings in die getuienis van die klaer en die verkeersbeampte kon vind nie, en het die beskuldigde soos iemand aan wie die voertuig behoort het opgetree; dit terwyl hy geweet het dat die voertuig nie aan hom behoort nie.
“Na wie toe sou hy die voertuig terugneem; hy ken dan nie die eienaar nie," het Mandla gesê.
Die hof het Lloyd se ouderdom en tydperk van aanhouding in aanmerking geneem en hom op die twee klagtes, vyf jaar tronkstraf opgelê.
Vorige artikel: Vinnige optrede na voertuig gesteel is
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'