OUDTSHOORN NUUS - Die polisie het Dinsdag spoedig gereageer na Servaas Faure se motor in Parkweg gesteel is.
Volgens Faure, beter bekend as Boetie, die eienaar van die 2004 VW Gholf wat gesteel is, het hy Dinsdagoggend gif vir die tuinman by 'n huis in Parkweg wat hy verhuur, afgelaai toe die voorval plaasgevind het.
"Ek het uitgeklim en die gif vir hom aangegee. Ek het minder as drie meter van die kar af gestaan en vinnig vir hom verduidelik hoe om dit aan te maak.
"Daar het 'n man en 'n vrou verbygestap, wat ek nie eers werklik opgemerk het tot die man besluit het om in die kar te klim en te ry nie. Hy het effe rukkerig weggetrek. Ek het gehoop hy ruk die kar dood, maar hy het toe ongelukkig nie."
Volgens Faure het die vrou, wat saam met die man geloop het, aan hom gesê dat sy die man ken en dat hy in Moerrasrivier woon.
"Sy het vir my sy naam ook gegee. Dit was nie eers 'n kwart minuut na die kar gesteel is nie toe daag 'n verkeersbeampte op die toneel op. Ek het al die inligting vir hom gegee en hy het vinnig die polisie in kennis gestel."
Faure sê hy was baie beïndruk deur die vinnige optrede van die polisie en die verkeersafdeling en het almal wat betrokke was bedank.
"Ek het gehoor die kar het 'n paar skraapmerke en is nie in die toestand wat hy was toe hy gesteel is nie."
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die 20-jarige man minder as twee ure na die voorval op Moerrasrivier in hegtenis geneem. Hy sou gister in die hof verskyn.
"Dit wil voorkom of die kar se ratkas skade het en of die voertuig ook in die proses gestamp is."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'