PRINS ALBERT NUUS - 'n Man van Prins Albert, wat 'n ander man oor R5 met 'n Okapi-mes in sy kop gesteek en die lem in sy slagoffer se kop vasgesit het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan poging tot moord skuldig bevind en tien jaar gevangenisstraf opgelê.
Klaas Meshoes (38) het op 9 November 2019 vir Arthur Baartman met 'n mes in sy kop en bors gesteek omdat hy hom nie R5 wou gee om videospeletjies te gaan speel nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Meshoes se weergawe, dat hy uit noodweer opgetree het toe Baartman hom glo met 'n mes en skroewedraaier aangeval het, verwerp.
Die lem van die mes het in Baartman se kop vasgesit en moes in die Grootte Schuur-hospitaal verwyder word.
Baartman het getuig dat hy die betrokke aand van 'n taverne onderweg was huis toe en vir hom 'n pasteitjie gekoop het.
Terwyl hy op 'n straathoek gesit en eet het, het Meshoes en sy meisie hom genader en vir R5 vra. Toe hy weier het Meshoes die mes uit sy sak gehaal en hom gesteek.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het gesê wat verswarend vir vonnis is, is die feit dat Meshoes, met verwysing na 'n vorige voorval tussen hulle, vir Baartman gesê het dat hy hom dié keer gaan doodmaak.
"Dit is nie eers vir 'n dokter nodig om te kom getuig dat die beskuldigde hard moes gesteek het om die mes deur been te steek nie."
Voorts is Meshoes in 2013 ses jaar gevangenisstraf opgelê en dié misdaad kort na sy vrylating in 2019 gepleeg het. Hy toon ook geen berou nie.
Meshoes se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het die hof versoek om in ag te neem dat hy die pa van vier kinders is.
Sy het toegegee dat Prins Albert se klein gemeenskap moeg is vir geweldsmisdade, maar tog die hof vir 'n gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra. Die landdros het met vonnisoplegging gesê, Meshoes is gelukkig dat Baartman nog leef.
Hy het Baartman met die dood gedreig en dus die doel gehad om hom dood te maak.
"Die klaer het geen wapen gehad nie en die beskuldigde se lewe was dus nie in gevaar nie."
Die hof het drie van die tien jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'