OUDTSHOORN NUUS - 'n Lid van die Suid-Afrikaanse weermag wat in 2015 in 'n ongeluk op die kruising van Voortrekkerweg en Hoogstraat op Oudtshoorn betrokke was, het op 7 September vlugtig vir die eerste keer in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Die 29-jarige Charles Collin Msiza word van roekelose en of nalatige bestuur aangekla.
Die saak spruit uit 'n ongeluk die aand van 3 Oktober 2015 toe die bestuurder van 'n wit Renault Megane na bewering 'n rooi verkeerslig verontagsaam het en teen drie voertuie, insluitend die wit Toyota van die oud-Son-joernalis, Hein Coetzee, gebots het.
Die ander twee voertuie was 'n swart VW Polo en 'n wit Isuzu-bakkie.
Coetzee het ses gebreekte ribbes, 'n lang sny aan sy arm en 'n gat in sy een been opgedoen. Daar was ook fyn glasstukkies in sy oë.
Die ongelukstoneel op 3 Oktober waarin Hein Coetzee beseer is. Foto: Liezl van Niekerk
Landdros Roelf Konstabel het die saak op versoek van Msiza se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, vir vertoë tot 4 Oktober uitgestel.
Msiza is op waarskuwing vrygelaat.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'