OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Khayelitsha, wat in 2016 saam met 'n man van Knysna by Market Fisheries ingebreek en 'n groot hoeveelheid sigarette gesteel het, en tans 'n vonnis van tien jaar in ‘n ander saak uitdien, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot ses jaar gevangenisstraf vir diefstal gevonnis.
Mongezi Kolisi (37) is op 23 Maart 2016 saam met Vusumzi Gungu in hegtenis geneem na hulle met agt kartonne sigarette ter waarde van sowat R120 000 in hul besit gevind is. Die toerusting wat gebruik is om toegang tot die gebou te verkry is ook by hulle gekry.
Die twee se sake is later geskei nadat Gungu skuldig gepleit en borgtog van R10 000 aan Kolisi toegestaan is.
Kolisi is deur streeklanddros Daniel Boks aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind en ses jaar gevangenisstraf opgelê waarvan die helfte samelopend met sy huidige vonnis uitgedien kan word.
Hy is reeds vroeër onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'