OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n man van Hazenjacht naby Dysselsdorp, wat onlangs in die Oudtshoorn-streekhof voorgekom het en teregstaan op moord, dring daarop aan dat die hof twee assessore uit die gemeenskap vir sy verhoor aanstel.
Andrew Blaauw (27) word van die moord op Gerswin Olivier (17) op 6 November 2020 aangekla.
Mario Oosthuizen het Vrydag getuig dat Blaauw nie die waarheid praat wanneer hy sê dat hy homself verdedig het nie. Volgens hom het Olivier nie ‘n mes by hom gehad nie en dat die beskuldigde hom van agter gesteek het.
Volgens hom het die oorledene nie uit die huis gegaan om met die beskuldigde te praat nie.
“Blaauw het Olivier binne die huis in sy nek gesteek,” het getuig.
Clive Baartman, in wie se huis die voorval plaasgevind het, het getuig dat hy en sy vriende, Oosthuizen, Adriaan August, en Olivier gesit en drink en later gaan lê het.
August het hom ‘n rukkie later kom wakker maak en meegedeel dat Blaauw daar aangekom het en na ‘n woordewisseling vir Olivier doodgesteek het.
Blaauw het vroeër aangedring op die aanstelling van assessore ten spyte van die waarskuwing van die streeklanddros, Ntsoki Moni, dat dit mense uit die gemeenskap is met geen regskennis nie en dit sy saak kan benadeel. Moni het die saak vir verdere getuienis tot 2 September uitgestel. Blaauw bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'