OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man wat aangekla word van verkragting en seksuele aanranding van 'n 14-jarige meisie op 'n plaas naby Oudtshoorn, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof vir pleit en verhoor uitgestel nadat die beskuldigde die mandaat van sy regshulpprokureur beëindig het.
Die 64-jarige man, wie se naam nog nie gepubliseer mag word nie, word daarvan aangekla dat hy by twee geleenthede in 2021 seks met die minderjarige gehad het en haar ook in November 2020 seksueel aangerand het deur haar te betas en te soen.
Die beweerde dade het glo naby Warmbad plaasgevind.
Streeklanddros Daniel Boks was duidelik nie gelukkig met die beskuldigde se besluit nie omdat die saak al baie lank op die hofrol is, en vir pleit en verhoor uitgestel was tot Woensdag. Die saak is daarna voorlopig tot 8 September uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'