OUDTSHOORN NUUS - "Ek wil glad nie hê dat die nuwe regerende party bekend moet staan as 'n DA-koalisie wat deur slegs A, B en C beheer word nie. Ons wil graag bekendstaan as 'n Oudtshoorn Veelparty Koalisie waarin almal ewe veel seggenskap het en die wat wil deelneem, is meer as welkom." So het Chris Macpherson (DA), nuutverkose burgemeester, vandeesweek aan Oudtshoorn Courant, tydens 'n openhartige onderhoud gesê.
"Ons as Oudtshoorn Veelparty Koalisie se mikpunt tydens die afgelope paar dae aan bewind, was om introspeksie te doen en dan ook so bietjie retrospeksie, sodat ons kan weet waarheen ons op pad is. Die realiteit is dat die publiek iets sigbaar wil sien wat jy gedurende jou termyn gedoen het.
Hulle wil sien of jy slaggate op paaie reggemaak het, het jy spoedhobbels aangebring, het jy takke afgesaag wat jy moes, het jy die ligte weer laat brand, het jy werk geskep, het jy genoeg water voorsien, het jy in landbou, sport en behuisingsnood voorsien en so gaan die lys aan. Die harde werklikheid is dat mense nie belangstel in vroom ideale nie; slegs resultate en daarvoor het jy 'n goed deurdagte plan plus 'n fondasie vir 'n puik bestuursisteem nodig om tekortkominge vinnig aan te spreek."
In lyn met hierdie krisispunte het Macpherson bevestig dat die munisipale raad tans besig is om die Blossoms-noodwatertoevoerprojek spoedig te hervat.
"Konstruksie vir die waterpypleiding op die plaaseienaars (Doppeladler Trust en Gerrie Ferreira Familie Trust) se grond gaan binnekort voortgesit word nadat 'n ooreenkoms bereik is in terme van korting op dié twee plase se eiendomsbelasting wat nou R80 000 per jaar sal beloop.
Hierdie ooreenkoms vervang die huidige ooreenkoms wat die raad in 2018 goedgekeur het om die twee partye (Doppeladler Trust en Gerrie Ferreira Familie Trust) R20 000 en R4 000 per maand onderskeidelik te betaal vir toegang en eksplorasieregte op hul eiendom. Siende dat die huidige toegewing in die vorm van 'n korting op eiendomsbelasting sal wees, sal daar nie verder begroot hoef te word in terme van die jaarlikse munisipale begroting nie."
Opleiding van raadslede
Die raad beoog om binnekort 'n assessering te doen vir elke raadslid om te bepaal watter tipe opleiding hy of sy graag wil hê mits dit relevant tot munisipale werksaamhede is. Volgens Macpherson is die tendens nou landwyd om politici op te lei wat tot groter kundigheid en produktiwiteit sal lei.
"As die ouditeur-generaal daarvoor te vinde is, kan ons dit so gou moontlik deurvoer. Volgende week gaan alle raadslede byvoorbeeld 'n gratis vyf dae lange prestasiebestuurkursus bywoon waaroor hulle eksamen moet skryf. Ek persoonlik dink dit is 'n puik inisiatief. As raadslid kan jy nie verwag om iemand te evalueer of te monitor as jy nie weet hoe die proses werk nie. Hierdie inisiatief is net om die raadslede se fokus daarop te plaas om hulself te skool en 'n boodskap uit te stuur dat raadslede die bevoegdheid het om vir opleiding aansoek te doen ten einde beter dienslewering te bevorder. Dit gebeur te veel dat politici in die raad kom met geen kwalifikasies of agtergrond nie. As 'n raadslid sy vyf jaar termyn klaarmaak, kan hy dus ook in staat wees om vir poste in die munisipaliteit se verskillende departemente aansoek te doen."
Organogram
Macpherson het die versekering gegee dat geen amptenare sy salaris sal verloor met die nuwe goedgekeurde organogram nie, tensy hy of sy nie rondgeskuif wil word na departemente wat sy vaardighede komplimenteer nie.
"Tans is ons besig om die werkbeskrywing van elke pos te omskryf. Ons het ook meer fondse in die begroting beskikbaar gestel vir vaardigheidsoudits, sowel as om gereeld te skakel met SETAS om sodoende bevoegtheidsvlakke te verhoog."
Rommel in die dorp
Volgens Macpherson is die rommel in Oudtshoorn iets verskriklik om te aanskou en ook in dié verband is daar planne vir alle raadslede om minstens een keer per maand in hul eie area self hul moue op te rol. Hierdie tipe verantwoordelike gedrag van raadslede kan 'n rimpeleffek hê op inwoners om weer dorptrots te kweek.
Werkskepping
Munisipale infrastruktuurbefondsing is deur die nasionale departement beskikbaar gestel vir voorheen benadeelde gebiede wanneer die munisipaliteit werksprojekte aanpak. Op die oomblik is daar tans 30 kapitaalprojekte wat werk skep vir die gemeenskap, waarvan die Blossoms-noodwatertoevoerprojek een is. Werkers het ook reeds verlede week begin om opleiding te kry om asbespype te vervang.
"Persoonlik is ek nie mal oor EPWP-program nie, omdat dit slegs drie maande is, maar dit sit ten minste iets op die tafel en tel ook as werkservaring. Wat die uitbreiding van industriële gebiede en fabrieke vir massawerksgeleenthede betref moet ons gunstige toestande soos byvoorbeeld sonplase vir kragvoorsiening op die tafel kan plaas wat 'n groot trekpleister vir beleggers is."
Munisipale bestuurspos
Die aansoekproses om 'n nuwe voltydse munisipale bestuurder aan te stel is gestop omdat raadslede kandidate, wat vir die pos aansoek gedoen het en op die kortlys was, glo by hul huise gaan besoek het. Volgens Macpherson is die pos reeds verlede naweek geherpubliseer en behoort die nuwe munisipale bestuurder oor 'n maand aangestel te word.
Dit is nie duidelik of die huidige waar-nemende munisipale bestuurder weer vir die pos aansoek gedoen het nie.
Opposisie dien op komitees
Macpherson het weereens beklemtoon dat al 25 raadslede 'n rol het om te speel om seker te maak dat vooruitgang vir die Groter Oudtshoorn kan geskied.
"Die opposisie se name vir diening op die eksterne komitees moet teen Vrydag (môre) vir die speaker deurgegee word sodat alle partye betrokke kan wees by kritieke besluitneming. As daar 'n probleem opduik in 'n spesifieke wyk sal die voorkeur ook wees dat 'n raadslid dit hanteer wat in daardie wyk is, ongeag watter politieke party dit verteenwoordig."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'