OUDTSHOORN NUUS - Openlike dreigemente teen die uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson en Vlancio Donson (onder-burgemeester), Johan Allers (speaker) en waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hedricks, sowel as aanhitsing tot geweld deur sekere individue en groepe, word in 'n uiters ernstige lig beskou.
Die insidente en dreigboodskappe van die afgelope twee weke is oortredings van die wet en word dienooreenkomstig hanteer.
Inligting ten opsigte van spesifieke individue is reeds op hoë vlak aan die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig en verlede week is die versekering gegee dat dit ondersoek word.
Daar word ook tans klagtes voorberei wat teen spesifieke persone aanhangig gemaak sal word.
Boodskappe wat onder andere lui dat "die burgemeester uitgehaal sal word" is verlede week wyd versprei.
Die burgemeester, speaker, onder-burgemeester en waarnemende munisipale bestuurder wil dit duidelik stel dat hulle nie deur ekstremiste en individue met persoonlike agendas wat demokratiese prosesse en wetgewing minag, geïntimideer sal word nie.
Mense wat hulle aan hierdie optredes skuldig maak, moet kennis neem dat die munisipaliteit volgens duidelike prosesse wat deur die grondwet bepaal word, optree en die versekering gee dat daardie bepalings gehandhaaf sal word.
Platforms wat individue en groepe vir hulself wil skep, sal nie ondersteun word nie.
Walter Hendricks
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'