Update
OUDTSHOORN NUUS - Die maatskappy wat die kontrak het om die stortingsterrein te rehabiliteer gaan finansieel bydra tot die begrafnis van die man wat verlede Donderdag onder 'n kruiptrekker gesterf het.
Die eienaars van Bruce Grondverskui-wings, Fritz Bruce en sy seun Emile, van Ladismith, het Woensdag gesê die dood van Josef Goliath (47) was 'n tragiese ongeluk.
Lees 'n verwante artikel: Kruiptrekker vergruis man se kop
"Ons masjiene en trokke bewerk die stortingsterrein al vir jare. Die mense ken ons en ons wil graag bydra tot die koste om die oorledene se familie by te staan," het Fritz gesê.
Hulle was Woensdag in Oudtshoorn om reëlings met die familie en 'n begrafnisondernemer te tref.
Die maatskappy is verantwoordelik vir die rehabilitasie van die terrein wat onder andere behels dat rommel platgestoot word en met grond bedek word.
Hulle is ook verantwoordelik vir die grou van slote waarin dierkarkasse gegooi en weer toegestoot word.
"Die toestande op die terrein het oor die jare egter baie verswak en uiters gevaarlik geraak. Ons het vroeër ons groot masjiene op die terrein gelos, maar nou moet ons alles elke aand by Johnson's Bricks gaan stoor, want alles word van die toerusting afgesteel," het Emile gesê.
Volgens hom word masjinerie se batterye, onderdele, ligte en diesel oornag gesteel.
Hy sê mense op die terrein het Donderdag na die voorval die kruiptrekker se ruit met klippe stukkend gegooi en gedreig om die bestuurder van die kruiptrekker dood te maak.
Die man is tans in Ladismith waar hy berading ontvang.
"Die ander groot probleem, wat tot Donderdag se tragedie bygedra het, is dat daar daagliks tot soveel as 80 mense op die terrein is.
"Die wat herwinning doen is nie so 'n groot probleem nie, maar daar is elke dag gomsnuiwers, leeglêers en mense wat onder die invloed van drank is."
Fritz noem egter dat daar die afgelope jaar 'n verbetering is omdat die munisipaliteit aandag aan die probleem skenk, maar dat die agterstand wat hulle moet inhaal baie groot is.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'