Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man (47) van Bongolethu is Donderdagmiddag net voor 12:00 by die stortingsterrein buite Oudtshoorn opslag dood toe 'n kruiptrekker bo-oor hom gery het.
Dit was gister teen saktyd onduidelik hoe die ongeluk gebeur het.
Volgens 'n vrou wat met die polisie op die toneel gepraat het, het die reusemasjien, wat rommel op die stortingsterrein platstoot, agteruit gery toe die voorval plaasgevind het.
Volgens haar het hulle die bestuurder se aandag probeer trek om hom te waarsku dat die man agter die kruiptrekker is.
Hy het hulle egter nie gehoor nie en die linkerkantse ketting het oor die man se kop gery.
Terwyl die Oudtshoorn Courant op die toneel was het van die omstanders gesê die man het agter die bewegende kruiptrekker in beweeg waar die bestuurder hom waarskynlik nie kon sien nie.
Die bestuurder van die kruiptrekker het vir sy eie veiligheid sowat 400 m van die toneel af by 'n ander voertuig gaan wag tot die polisie met hom gepraat het.
'n Groep mense wat by die toneel was, was ontsteld dat die polisie nie dadelik teen die bestuurder opgetree het nie, maar hulle is uiteen nadat nog polisievoertuie by die toneel opgedaag het.
'n Jeugdige snuif gom terwyl nooddienswerkers en polisielede die area om die liggaam afsper.
Die ondersoekbeampte a.o. Wessels Bower, was minute na die voorval ook op die toneel.
Toe die Oudtshoorn Courant die toneel verlaat het was dit nog onduidelik of die man se naasbestaandes oor die voorval ingelig is en daarom word die naam en adres weerhou tot dit amptelik deur die polisie bevestig word.
Die oorledene was een van die tientalle mense wat daagliks op die stortingsterrein deur rommel sif om herwinbare materiaal uit te haal.
'n Trekker van 'n herwinningsaanleg kom drie keer per dag na die terrein toe om die gesorteerde rommel op te laai en te laat weeg.
Terwyl die polisielede en lede van die forensiese afdeling die ongelukstoneel ondersoek het, het groepe mense, wat 'n hele aantal kinders insluit, voortgegaan met hulle daaglikse taak. Jeugdiges wat gom uit bottels snuif het ook op die terrein rondgedwaal.
Van die beamptes wat op die toneel was het bevestig dat die huidige situasie op die stortingsterrein ernstig aandag moet geniet.
Lees 'n vorige artikel: Stootskraper vergruis man se kop
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'