OUDTSHOORN NUUS - 'n Ma van vyf kinders van Matjiesrivier, wat haar buurvrou met 'n mes in die bobeen gesteek en sy daarna doodgebloei het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind.
Junene Coerecius (36), ongetroude ma van vyf kinders, is van moord op haar buurvrou, Brenda Minnies (41), aangekla.
Sy het egter onskuldig gepleit omdat sy nie die opset gehad het om Minnies dood te maak nie. Coerecius sê in haar pleitverduideliking dat sy op die betrokke Sondag besig was om 'n hoender vir ete voor te berei toe Minnies haar valslik beskuldig het dat dit haar hoender is wat sy gesteel het.
Minnies het volgens Coerecius, haar soos gewoonlik weer uitgeskel.
Sy was die vorige week in die hospitaal nadat Minnies haar met 'n mes gesteek het. Minnies het die keer met 'n skêr na haar gesteek waarna sy die huis in is en die mes gaan haal waarmee sy besig was en Minnies daarmee gesteek.
"Dit is al jare dat sy my verneder wanneer sy dronk is en ek het kwaad geword," lui Coerecius se verklaring. "Ek wou haar net beseer."
Coerecius het aanvanklik nie haar eie pleitverduideliking verstaan nie en die hof is verdaag sodat haar regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, dit weer aan haar kon verduidelik.
Hierna het Botha die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra sodat Coerecius na haar kinders kan kyk.
Sy sien ook om na die twee kinders van die oorledene wie se familie haar vergewe het.
Volgens die staatsaanklaer, Willem Vister, sal 'n geheel opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig 'n verkeerde boodskap uitstuur en vra hy die hof om 'n vonnis ingevolge Art 276 (1) (i) op te lê.
"Geweld het vandag die norm geword om probleme op te los en dit gebeur veral oor naweke wanneer mense te veel drink en te gou na voorwerpe gryp om mekaar te steek."
Coerecius is ook nie 'n eerste oortreder nie. Streeklanddros Ntsoki Moni het Coerecius se pleitverduideliking en erkennings aanvaar en die saak is vir korrektiewe toesig- en proefbeampte verslae voor vonnisoplegging tot 3 Junie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'