Update
OUDTSHOORN NUUS - Andrew Cupido, 'n pa van twee, het Saterdag in die vroeë oggendure verbete probeer om sy familie uit hul brandende huis in Volmoed te red.
Hy kon daarin slaag om almal wat in die huis was te red, behalwe sy suster, die 27-jarige Kaylene Solomons.
Hy is in die hospitaal opgeneem met brandwonde aan sy nek, hande, ore en voorkop.
Andrew het saam met sy ma Johanna, pa Johannes, susters Rochelle en Kaylene, sy meisie Anneline en vier kinders in die huis gewoon.
Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, word 'n geregtelike doodsondersoek gedoen.
Hy het aan Oudtshoorn Courant gesê die brand het vermoedelik in haar kamer ontstaan toe 'n kers omgeval het. Die plaashuis het net sonkrag.
Die woning is totaal en al vernietig en die familie het al hulle besittings verloor.
Kaylene se ma, Johanna Solomons, wat ook in die huis was toe die brand ontstaan het, sê haar seun Andrew, het van die rook wakker geword. "Hy het almal probeer red. Hy het al die kinders uitgekry en die res van die familie. Hy was in en uit die brandende huis, maar hy kon haar nie red nie."
Sy is in haar kamer in die hoekie gevind waar sy probeer het om haarself teen die vlamme te beskerm.
Johannes sê sy dogter was 'n liefdevolle mens. "Haar dogtertjie van 5, Emmy-Kay, gaan haar vreeslik mis. Sy was 'n goeie ma en het regtig geleef vir haar kind. Ons gaan haar net so baie mis."
Haar ma het haar as 'n staatmaker en haar steunpilaar beskryf.
Ook Kaylene se bure is stukkend oor wat gebeur het.
"Ons het die oggend so voor 04:00 wakker geword van 'n geraas en dit is toe ons bewus geword het van die brand. Ons het probeer help waar ons kon, maar daar was nie veel wat ons kon doen nie. Dit is baie erg dat sy so moes sterf. Sy was 'n goeie mens," het Jerome Heyman gesê.
Sy word Sondag om 09:00 vanuit Grace Kerk in Volmoed begrawe.
Vorige artikel: 27-jarige sterf in brand
Die kamer waarin Kaylene Solomons se liggaam gevind is.
Van links is Isaino (5) en Anneline met Denver (2), Andrew se vriendin en twee kinders, Johanna Solomons, Kaylene se ma met haar dogtertjie, Emmie-Kay (5), Rochelle, Kaylene se suster en Johannes, Kaylene se pa voor die huis waar die brand plaasgevind het.
Die huis waar die brand ontstaan het.Foto's: Liezl Van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’